Die Ligte Voetstap
Henri BoscoDie beminlike Pascalet gaan op 'n lang reis
te voet saam met sy sonderlinge tant Martine.
Deur die lieflike Franse landskap loop hulle honderd
myl, van Pascalet-hulle se plasie tot by tant
Martine se geboortestreek, Pierrouré, die plaas
van die Gloriot-familie. Tant Martine is op 'n tog
terug na haar herinneringe. Daarom het die lang
wandeling vir haar 'n bybetekenis, daarom is
die klein Pascalet vir haar meer as net 'n klein
onskuldige seuntjie. Hy is vir haar die simbool van
die jeug wat vir haar verby is. En as hulle eindelik
in Pierrouré aankom? Daar wag 'n groot verrassing.
Op hulle lang reis ondervind die ou vrou en die
seuntjie allerhande wonderbaarlike avonture.
Onverklaarbare spookagtige wesens kruis hulle pad.
Of is dit maar net in hul verbeelding wat hulle
alles belewe? Want dit is 'n maannagdroom' met die
wasige eienskappe van 'n onvergeetlike droom.
Die skrywer het 'n hartstogtelike liefde vir die
natuur, vir diere en eenvoudige boerewesens
van die mooi streek waar sy verhaal speel.
Ander lotgevalle van Pascalet en sy familie word
vertel in Die Spookjakkals (Kadet nr. 8) en
Die Seun en die Rivier (Kadet nr. 13).